Visie

Ons visie is om die skool uit te bou tot 'n ideale opvoedings- en onderrigmilieu waar leerders gelukkig en geborge, geletterd en gesyferd kan raak.

Missie

Om in samewerking met alle belanghebbendes al die skool se aktiwiteite op 'n gelukkige en opvoedkundige waardestelsel te grondves en respek teenoor alle kliënte te betoon. Die skep van 'n stabiele, netjiese en gelukkige omgewing waar alle leerders hulle talente kan ontwikkel. Om alle onderwysvennote saam te laat werk om kwaliteit-, kreatiewe- en innoverende onderrig te voorsien. Om koste-effektief te wees, sodat alle leerders, sonder énkele uitsondering, toegang tot goeie onderwys kan hê. Die leerders moet in 'n netjiese, goedgeorganiseerde, vriendelike en veilige onderrigmilieu tot volwassenheid kan groei.

Skoolwapen

1. Kleure
Die feit dat die kleure perfek harmonieer en tot 'n pragtige eindproduk saamsmelt, simboliseer dat...
* diversiteit tog uiteindelik in 'n pragtige eenheid verweef kan word.
* ons ons daartoe verbind het om alle kulture te akkommodeer

2. Groot skild
Die groot skild simboliseer dat ons, danksy ons geloof in ons God, geharnas teen die bose aanslae van die lewe is.

3. Klein skild
Die klein skild simboliseer dat kennis mag is en dat geletterdheid en gesyferdheid jou paraat maak en die skild is wat die gevaar van oorheersing deur een of 'n groep persone sal afweer.

4. Visarend
Die visarend simboliseer dat...
* ons voortdurend daarna sal strewe om steeds hoër te reik, totdat die boonste sport bereik is.
* soos hy sy prooi vanuit die lug gewaar, ons ook altyd bewus moet wees van wat op grondvlak gebeur, en alle verwikkelinge   met arendsoë moet dophou. Dit moet egter sonder enige hooghartigheid geskied met die uitsluitlike doel om te wéét wat   aangaan, sodat ons die régte keuses in die lewe kan maak.

5. Lint
Die opwaartse tendens wat die lint toon, is om ons almal se strewes na groot hoogtes te ondersteun.
Die deining van die lint simboliseer die golwing van die water - die noodsaaklikste voedingsbron van alle vorms van lewe. Ewe-eens is Eligwa-skool 'n noodsaaklike bron van kennis wat die grondslag lê en dit ten doel het om sy leerders vir die toekoms te skool en te sterk!

Skoollied

By die magtig' Vaalrivier se stroom
Waar wilgers loom in hul sonnedroom,
Het ons skool hier wortel geskied;
Eligwa-skool wat alles ons bied!
Hier voel ons geborge,
Gekoester en vry van sorge.
Ons word tot nuwe kennis gelei,
En so vir die toekoms voorberei.
Dis ook 'n leerskool vir die lewe:
Om na die boonste sport te strewe!
Ons dien ons God, ons Volk, ons Vaderland,
laat ons leuse weerklink van kant tot kant:
"Streef steeds hoër!", Streef steeds hoër!".
"Streef steeds hoër!", E-lig-wa-skool!

Skoolgeskiedenis

Na vele ondersoeke, vergaderings en samesprekings tussen die beheerliggame, hoofde, personeel en ander belanghebbendes is daar besin dat die amalgamasie van Laerskool Historia en Laerskool Voorslag die beste opsie sal wees vir die voortbestaan van een skool. Indien een groot skool gevorm kan word sal alle betrokkenes daarby baat. Na die departement goedkeuring gegee het moes daar gekyk word watter skool gebruik gaan word.

Na 'n indiepte ondersoek is daar gevind dat die geboue van Laerskool Voorslag geografies die beste geleë is aangesien dit die enigste skool is wat aan die westekant van die dorp geleë is.

In die voedingsgebied vind daar nog groot uitbreidings en ontwikkeling plaas terwyl die gebied rondom Laerskool Historia versadig is en dat uitbreiding gestagneer het.

'n Interessante brokkie nuus is dat die twee skole in een tydelike gebou gehuisves was terwyl die huidige skole in aanbou was.

Vir die ouergemeenskappe van die twee skole is 'n gesamentlike braai gereël by Laerskool Historia. (Die afskeidsbraai). Daar is met 'n nuwe skool begin, met nuwe skoolklere, wapen en skoollied. Die nuwe naam van die nuwe skool is Eligwa. Dit beteken "Naby die water".

Mnr Cassie Vorster is vanaf Januarie 2006 amptelik die eerste Hoof van Laerskool Eligwa.