“Hoop is nie optimisme nie, maar realisme wanneer jy die stappe neem wat vandag nodig is, om van môre ‘n sukses te maak,”.

As gevolg van die grendeltydperk is die skool se stappe om die nuut aangstelde hoof by Laerskool Eligwa aan te kondig eers op Dinsdag, 23 Junie 2020 gedoen.  Die Eligwa onderwyskorps het trots erkenning gegee toe die langverwagte aankondiging van die nuwe Hoof, amptelik deur Mnr. Makhudu Kganagka, IDSO van die Department van Onderwys, in die skoolsaal gedoen was.

Na die lang afwesigheid van ‘n hoof by die skool, na die aftrede van Mnr. Vorster in 2018, is Mnr. Bennie Boshoff amptelik op 1 April 2020 aangestel as Hoof by Laerskool Eligwa. 

Ons wil vir Mnr. Boshoff  hartlik verwelkom en geluk wens met sy aanstelling en ons  vertrou dat, met die hulp en ondersteuning van die gemeenskap, ouers en onderwysers hy  hierdie taak suksesvol sal kan aanpak.

Laerskool Eligwa  begin nou  met ‘n nuwe era by die skool met die aanstelling van ons nuwe skoolhoof Mnr. Bennie Boshoff en ons weet onder sy leiding ons  sal aanhou groei as ‘n Afrikaanse skool met sterk Christelike waardes.

Mnr. Boshoff is slegs die 3de Hoof van Laerskool Eligwa na die skool se ontstaan in 2005 (Laerskool Historia en Laerskool Voorslag het saamgesmelt). Mnr. Boshoff se voorgangers was Mnre. Botter Herbst en Cassie Vorster.

Mnr. Boshoff het by Hoërskool Transvalia sy  hoërskool loopbaan in 1985 voltooi waarna hy Onderwys by die Potchefstroom se Onderwyskollege gaan studeer het.  Hy het sy diploma in 1989 voltooi.  Voor hy sy onderwys loopbaan begin het, het hy eers Militêre Diensplig in Oudtshoorn voltooi tydens 1990. In 1991 begin hy as Onderwyser by Laerskool Kollegepark en tree hy ook in die huwelik met Elsa, waaruit 2 kinders Anri en Luan gebore is. Tydens sy onderwysjare het Mnr. Boshoff betrokke geraak by menige aktiwiteite, soos krieket, skaak, rugby en atletiek.  Hy het  ook ‘n groot passie vir Wiskunde.  In 1994 verwerf hy sy B Com-graad  by die Noordwes Universiteit en dit was gedurende hierdie tyd alreeds duidelik dat die onderwys vir Mnr. Boshoff inderdaad ‘n roeping is.  In 1997 word Mnr. Boshoff by Oliver Lodge Primary as Adjunkhoof aangestel.  Hy verwerf ook in hierdie jaar sy B Com Honneurs Graad in Ondernemingsbestuur.  In 2008 was dit tyd vir ‘n nuwe uitdaging – hy maak ‘n skuif na Laerskool Eligwa en het  dadelik geweet dat hy ‘n Eligwa man in murg en been is!

Sy vrou Elsa beskryf hom soos volg: “Bennie is ‘n Godvresende man wat nie op sy eie krag staatmaak nie maar in afhanklikheid van die Here leef.  Hy is opreg, menslik en eerlik en daar is geen grys areas nie.  Hy het ‘n goeie humorsin en het altyd tyd vir ‘n grappie.  Hy sien altyd ‘n probleem as ‘n geleentheid om te groei en hou van uitdagings.  Sy motto is om elke dag alles te te doen na die beste van jou vermoë tot eer van God en hy lewe dit elke dag uit.”

As deel van die Eligwagemeenskap wens ons Mnr. Boshoff  die beste toe vir sy pad vorentoe as Hoof van Laerskool Eligwa. “Ons bid vir u en u gesin net voorspoed toe en hoop dat  u geluk en sukses in u persoonlike lewe, saam met u familie, en ook in u beroep sal smaak. Ons wens is dat hierdie nuwe  hoofstuk aan al u  verwagtinge sal voldoen met die  wete dat God as kompas jou sal lei.”

Gun my ook hierdie geleentheid om baie dankie vir Mnr. Boshoff te sê vir sy leierskap en puik organisasie tydens die grendeltydperk.  Dankie dat ons kinders kon terugkeer na ‘n veilige omgewing waar hulle geborge voel en elkeen elke dag STEEDS HOËR KAN STREEF!

Ons hoop om binnekort, na die opskorting van die grendeltydperk, ‘n amptelike verwelkomingsfunksie vir Mnr. Boshoff te hou. Kommunikasie (“Save a moment”) in die verband sal op ‘n latere stadium amptelik aan alle ouers en kinders deurgegee word.

As Eligwagemeenskap sal ons saam van die toekoms ‘n sukses kan maak!

Celesté Vermeulen

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Wanneer ‘n mens  in ‘n nuwe fase van jou lewe kom, is dit met groot dankbaarheid wat jy terugkyk en dankie sê vir al die geleenthede wat vir jou geskep is. Laerskool Eligwa lê my baie na aan die hart en dit is voorwaar ‘n groot voorreg om saam met so ‘n energieke en bekwame  personeelkorps te werk. Minister Angie Motshekga het ‘n paar jaar gelede gesê: Gaan kyk na die Afrikaanse skole, na die werksetiek van ons onderwysers. Dit is absoluut waar en eenhonderd persent van toepassing op Laerskool Eligwa.

Die kernwaardes van die onderwys het nog altyd dieselfde gebly. Aanpassings is egter voortdurend nodig in ‘n veranderende wêreld, maar dit moet nooit geskied ten koste van goeie opvoeding nie. Positiewe insette word altyd verwelkom om van Laerskool Eligwa ‘n nog beter plek te maak.

By Afrikaans Hoër Seunskool se pawiljoen is ‘n bord waarop staan:  Om deel te neem is goed , om te wen is beter , maar die beste is om dit te geniet. By Laerskool Eligwa doen ons presies dit. Ons wen nie altyd nie , maar ons geniet dit wat ons doen ten volle. Dit is tog waaroor die lewe gaan. Doen dit wat jy doen na die beste van jou vermoë en sukses sal volg. Daar is niks of niemand wat jou verhoed om ‘n lewe van vreugde te lei nie. 

Dit is met groot dank en nederigheid teenoor ons Hemelse Vader wat ek hierdie pos aanvaar en sal streef om myself  saam met die personeel  uit te leef en  saam met die Here die pad te stap om Eligwa steeds na  hoër hoogtes te lei.  

Bennie Boshoff

Mnr. Makhudu Kganagka, Mnr. Bennie Boshoff, Mev. Celesté Vermeulen