Na vele ondersoeke, vergaderings en samesprekings tussen die beheerliggame, hoofde, personeel en ander belanghebbendes is daar besin dat die amalgamasie van Laerskool Historia en Laerskool Voorslag die beste opsie sal wees vir die voortbestaan van een skool. Indien een groot skool gevorm kan word sal alle betrokkenes daarby baat. Na die departement goedkeuring gegee het moes daar gekyk word watter skool gebruik gaan word.

Na ‘n indiepte ondersoek is daar gevind dat die geboue van Laerskool Voorslag geografies die beste geleë is aangesien dit die enigste skool is wat aan die westekant van die dorp geleë is.

In die voedingsgebied vind daar nog groot uitbreidings en ontwikkeling plaas terwyl die gebied rondom Laerskool Historia versadig is en dat uitbreiding gestagneer het.

‘n Interessante brokkie nuus is dat die twee skole in een tydelike gebou gehuisves was terwyl die huidige skole in aanbou was.

Vir die ouergemeenskappe van die twee skole is ‘n gesamentlike braai gereël by Laerskool Historia. (Die afskeidsbraai). Daar is met ‘n nuwe skool begin, met nuwe skoolklere, wapen en skoollied. Die nuwe naam van die nuwe skool is Eligwa. Dit beteken “Naby die water”.

Mnr Cassie Vorster was vanaf Januarie 2006 amptelik die eerste Hoof van Laerskool Eligwa.